Gaan na inhoud

Hier hoor jy net die Woord; niks meer nie en niks minder nie.

Bybelstudie en lering by Net die Woord Gelowiges bymekaar in selgroepverband Die Woord van God word verkondig Gemeenskap en geloofsgroei Selgroep byeenkoms in aksie Woord-gebaseerde lering en toerusting Gelowiges groei saam in die Woord Net die Woord selgroep en lering

Ons antwoord jou vrae

Waarom Net die Woord?

In baie kerke word die Woord nie meer verkondig nie; eerder stories en motiverings toesprake om mense goed te laat voel. Wat gehoor moet word, bekering (Handelinge 3:19), en heiligmaking (Hebreërs 12:14), word nie meer geleer nie en baie wíl dit ook nie hoor nie. Paulus skryf aan sy opvolger, Timótheüs:

3want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. – 2 Timótheüs 4:3-4

Vals Christene ("hulle") en leraars is ewe skuldig. Ware gelowiges verlaat die kerk weens die afwesigheid van gesonde leer, nie omdat hulle afvallig raak nie. Ons doel is tweeledig:

  1. Betrek diegene wie tans nie meer in gemeentes betrokke is nie, om weer aktief deel van die Kerk te wees. [ Weg uit jou gemeente. Wat nou? ]
  2. Lei selgroep leiers op en stig selgroepe in ons omgewing as 'n plek waar die Woord effektief bedien kan word. [ Meer oor selgroepe. ] [ Selgroepe wat reg funksioneer. ]

Wat doen ons?

Net die Woord geld hier en ons fokus op effektiewe lering en bediening van die Woord in selgroepe, en die toerusting van gelowiges vir hulle dienswerk (Efesiërs 4:12).

  • Ons verteenwoordig nie 'n spesifieke denominasie nie, maar leef die Woord uit soos dit in die eerste kerk in Handelinge ervaar is (Handelinge 2:42).
  • Daar is nie ‘n gebou en stelsel om te onderhou nie. Die gelowiges is die gebou en ons onderhou gelowiges deur effektiewe, Woord-gebaseerde lering (Efesiërs 2:20-22).
  • Ons soek nie jou geld nie, neem nie kollekte nie, en daar is nie ‘n bankrekening of ‘n tesourier nie (1 Korinthiërs 9:12).
  • Jy word nie hier ‘n lidmaat nie. As jy wedergebore is, is jy alreeds ‘n lid van die Kerk soos Jesus Christus dit bedoel het (1 Korinthiërs 12:27).
Lees verder
  • Daar is nie ‘n kerkraad nie, wel ‘n paar geestelik-volwasse mans met wie ek ‘n pad stap en as ouderlinge beskou omdat hulle die voorbeeld stel wat Paulus aan Timótheüs gegee het. Hierdie mans ken die Woord, hulle ken my, en hulle ondersteun my bediening. Hulle maak ook seker dat dit wat ek jou leer, voldoen aan die vereistes van die Woord (1 Timótheüs 3:1-7). Ek onderwerp my aan hulle leiding. [ Die rol van ouderlinge in die gemeente. ]
  • Gesamentlike byeenkomste word eenkeer per week aangebied, in Afrikaans. Die formaat is eenvoudig. Ons open met gebed, bedien die Woord, gee voldoende tyd vir vrae en interaksie, en sluit af met gebed. Indien iemand ‘n lied aanvra, sing ons dit, maar sonder instrumente.
  • Die aanbieding is informeel. Die aantal besoekers teenwoordig bepaal of ons om ‘n tafel gaan sit en of die boodskap van ‘n staande posisie aangebied word.
  • Hier is nie belange groepe nie. Die fokus is op Skrif-gebaseerde lering, niks meer nie en niks minder nie. Die enigste groepe wat hier vorm is selgroepe wat vanuit die byeenkoms sou ontstaan, sodat die Kerk kan groei. Ons fokus op selgroepe en dit is ons doel dat effektiewe kleingroepe in ons gemeenskap sal funksioneer. Opleiding word vir huidige en voornemende selgroep leiers gegee. [ Wat gebeur in ons selgroepe? ]
  • Rakende die bediening van die Nagmaal, moedig ons mense aan om by hulle huise as gesinne of selgroepe Nagmaal te gebruik. Indien iemand gedoop wil word, reël ons dat dit plaasvind. Daar is geen instruksie in die Woord dat die Doop as sakrament net deur ‘n geordende pastoor, binne in ‘n kerk bedien kan word nie. As jy ‘n gelowige is en dalk ‘n pad met ‘n nuwe gelowige gestap het, is dit jou voorreg om hom/haar te doop.
Hierdie boodskap moet gehoor word

As jy meer oortuiging kort, luister na wyle Pastoor John MacArthur se aanbieding oor die rede waarom gelowiges hulle kerke verlaat.

Vir nog 'n uitstekende boodskap verduideliking, luister wat Pastoor Voddie Baucham hieroor sê.

Wanneer en waar kom ons bymekaar?

Ons sien jou op Woesdag/Donderdag aande in die noordelike dele van Pretoria. Jy gaan nie vir meer as 'n uur en 30 minute besig gehou word nie. Ons selgroep leiers bedien die Woord op 'n gemaklike manier, gee geleentheid vir bespreking en interaksie, rus jou toe vir die komende week, en dan is ons klaar. Individuele selgroepe vergader in huise soos vooraf gereël.

By Net die Woord stel ons nie belang in stories (fabels) nie. Bring jou Bybel, ‘n notaboek, en ‘n pen. Hier gaan jy net die Woord hoor en betrokke raak.

Kom soos jy is, maar moenie bly soos jy was nie.

Hoedanig is die aanbieding?

Boodskappe en lering

Boodskappe is nie aanlyn beskikbaar nie maar ons stel wel notas beskikbaar. [ Sien hier vir 'n voorbeeld. ] Kom luister, neem deel, en leer. Goeie prediking sal egter niks baat indien die lering nie in die praktyk, in ons eie lewens, verandering bring nie. Dit wat ons jou leer moet jy daarna in jou omgewing gaan uitdra, sonder om T-hemde en windbrekers te dra wat vertel van 'n kursus wat jy ten duurste moes bywoon voordat jy geskik bevind is om die Goeie Nuus uit te dra nie. [ Wie was die Woord, die Goeie Nuus? ]

Bywoning

Bywoning is nie verpligtend nie. As jy hier is, hoor jy die boodskap. As jy nie hier is nie, mis jy uit. Probeer om ten minste jou weeklikse selgroep byeenkoms te ondersteun.

As jy hiernatoe kom is dit omdat jy geestelik gevoed wil word en ernstig is oor jou verhouding met die Vader, die Seun, en die Heilige Gees. Skakel in. Dit is jou keuse.

Wie is die aanbieder?

Ek is Andries Oberholzer en ek het die Weg, die Waarheid, en die Lewe in 1989 gevind en sodoende tot die Vader gekom. As ‘n nuwe gelowige is ek 'n week later gedoop deur onderdompeling. In 1993 verwerf ek my teologie kwalifikasie, die gevolg van 'n intense belangstelling in die Woord.

My fokus is ‘n liefde vir die Woord en ek leer graag andere wat God se openbaring aan ons is deur sy Woord, niks anders nie. My bediening is gerig op lering en klein groepe. Ek glo in die hele Woord (2 Timótheüs 3:16) as God se geïnspireerde openbaring van Homself aan die mens. Ek praat met jou oor die Ou Testament, byvoorbeeld Daniël, omdat Jesus self daarna verwys het. Ek leer jou ook oor Openbaring, omdat dit die laaste boek in die Bybel is, en God se plan is om sy Seun, Jesus Christus, aan die wêreld te openbaar as die regeerder van Israel gedurende die Millennium, soos dit in Openbaring en die profetiese boeke beskryf word.

Wat die Woord self sê

Die Drie-eenheid

God is 'n Drie-eenheid: Vader, Seun (Jesus Christus), en Heilige Gees, elk onderskeibaar maar gelyk. Ons respekteer die drie unieke Persone in terme van hulle karakter (Matthéüs 3:16-17).

Jesus Christus

Die Seun van God, Jesus Christus, is die Messias waaroor in die Ou Testament geprofeteer is, wat na die aarde gekom het en vir ‘n kort periode hier geleef, gesterf, en weer opgestaan het om versoening te doen vir die sondes van die mensdom (1 Johannes 2:2).

Redding

Ongelowiges uit alle nasies, volke, en tale word deur geloof in Jesus met God versoen en ontvang die ewige lewe op grond van 'n aktiewe besluit (Johannes 3:16).

Lees verder
Die Heilige Gees

Die Heilige Gees is in die wêreld teenwoordig, lei ongelowiges tot redding, en bemagtig hulle as gelowiges om volgens God se wil te leef. (Romeine 8:14)

Die Bybel

Die Bybel, beide die Ou en Nuwe Testamente, is God se geïnspireerde woord en 'n gids vir ons lewens (Psalm 119:105). Die Bybel is God se Woord, nie woorde oor God nie (2 Timótheüs 3:16).

Sakramente

Die onderhouding van die twee sakramente, die Doop van gelowiges (Matthéüs 28:19) en die Nagmaal (Lukas 22:19), is die uiterlike tekens van God se genade en die belofte van die wederkoms van Jesus Christus. Die Doop deur enkelvoudige onderdompeling is die korrekte metode volgens die Bybel, en vind plaas nadat ‘n persoon tot redding gekom het en ‘n openbare belydenis doen van dit waarvan hulle alreeds in hulle hart oortuig is.

Hiernamaals

'n Hiernamaals is ons finale bestemming, waar God alleen sal oordeel en almal óf beloning óf straf in die gesig sal staar, afhangende van die keuse wat hulle gemaak het. Ons glo in ‘n ewige bestaan van die mens, óf in die hemel as gereddes, óf in die poel van vuur (die hel) weg van die aangesig van God af, as ongereddes (Matthéüs 25:46).

Interpretasie van die Woord

Letterlike Interpretasie

Ons glo in die letterlike, historiese, en grammatiese interpretasie van die Woord, tensy die konteks duidelik aandui dat dit bedoel is om figuurlik geïnterpreteer te word.

Dispensasies

Dispensasies is God se progressiewe openbaring van Homself aan die mens. Die verskillende dispensasies word verwesenlik in die finale openbaring van Jesus Christus. As jy nie dispensasie teologie aanvaar nie, word die Woord soveel moeiliker om te verstaan.

Israel en die Kerk

Ons onderskei tussen Israel as 'n nasionale entiteit, en die Kerk as die versameling van gelowiges uit alle nasies, volke, en tale. Ons kan nie God se beloftes vir Israel eenvoudig op die Kerk van toepassing maak nie, en andersom. God deel indiwidueel met hierdie twee groepe.

Ons fokus is om die Kerk uit te brei deur effektiewe selgroepe

Die eerste kerk het in huise bymekaar gekom. Dit was die model van die Kerk en dit het nog nooit verander nie. Om in huise byeen te kom bied voordele wat ‘n groot byeenkoms nooit kan hê nie [ Lees meer hieroor... ] Selgroep leiers wat goed opgelei is, maak tyd om elkeen in die groep die geleentheid te gee om hulle eie opinies uit te spreek en vrae te vra.

Bogenoemde gebeur nie in ‘n normale diens nie, omdat dit bloot ‘n monoloog is sonder enige interaksie van die kant van die gemeente af. Interaksie is baie belangrik. Diegene wat nooit die geleentheid kry om te sê wat hulle op die hart het nie, raak weg.

Die fokus is om jou betrokke te kry en interaksie aan te moedig. Ons wil die selgroep waaruit Net die Woord ontstaan het, uitbrei sodat daar meer selgroepe gestig kan word.

[ Meer inligting oor selgroepe... ]

Keer terug na die Woord.

Keer terug na die Woord

As jy vasgevang is in 'n situasie waar daar geen Skrif-gesentreerde lering is nie en jy nie meer mooi stories wil hoor nie, maak 'n draai by ons. Net die Woord geld hier; niks meer nie en niks minder nie. Kom soos jy is, maar moenie bly soos jy was nie.

Kontak Ons