Is daar nog ouderlinge in jou gemeente?
'n Goddelike bediening
‘n Groot probleem in baie gemeentes vandag is die wegdoen met die stelsel van diakens en ouderlinge. Hierdie rolle word deesdae as ouderwets gesien en hulle word vervang met “leiers”. Hierdie leiers is egter dikwels net ‘n front vir die pastor, wat alles wil beheer, om ‘n span daar te stel wat sal doen wat hy gebied. Kom ons kyk na die rol van die ouderling, volgens die Woord. Ons lees die volgende in Paulus se pastorale brief aan Titus:
5Om hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy nog verder sou regmaak wat oorgebly het, en van stad tot stad ouderlinge sou aanstel soos ek jou beveel het — 6as iemand onberispelik is, die man van een vrou, gelowige kinders het wat nie beskuldig word van losbandigheid of tugteloos is nie. 7Want ’n opsiener moet as ’n rentmeester van God onberispelik wees, nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie; 8maar gasvry, een wat die goeie liefhet, ingetoë, regverdig, heilig, een wat homself beheers; 9een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê. – Titus 1:5-9
Hierdie gedeelte spreek slegs die aanstelling van ouderlinge aan. (Die aanstelling van diakens word in Handelinge 6 verduidelik.) Paulus stel die vereistes waaraan 'n ouderling moet voldoen. Dit is nie nodig om elkeen van hierdie vereistes in besonderhede deur te werk nie omdat die Woord dit alreeds baie duidelik uiteen sit. Daar is egter een baie belangrike element hier vervat: Die ouderling moet ‘n rentmeester wees, ‘n bestuurder wat namens God optree. Die amp van ouderling kom dus met ‘n groot verantwoordelikheid.
Paulus noem duidelik wat hierdie persoon moet wees en nie moet wees nie. Twee aspekte staan egter uit. Hierdie persoon moet bewys lewer dat sy karakter getuig van die lewe van ‘n gelowige (vers 6 tot 8) en iemand moet wees wie die Woord ken (vers 9). Dit is veral die laaste gedeelte wat belangrik is. Die ouderling moet iemand wees wie
- onwrikbaar vashou aan die Woord en suiwer dogma;
- die Woord ken en kan gebruik om andere in liefde te kan vermaan; en
- die Woord ken en kan gebruik om kritici die regte pad te wys.
Gebruik nou die maatstaf wat hierbo gestel word en toets jou gemeente se leierskorps hieraan. Vergeet van jou vooroordele en voorkeure. Gebruik die Woord, en meet indiwidue aan die vereistes. Dit is vinnig duidelik dat min “leiers” aan hierdie vereistes voldoen, veral wat betref hulle kennis van die Woord.
Indien jou gemeente weggedoen het met die posisie van die ouderling, word geskikte indiwidue wie volgens die Woord wandel, verhoed om hulle bediening uit te leef. Die argument dat die posisie van die ouderling uitgedien is, hou nie water nie. Dit is vandag meer nodig as ooit dat persone in ons gemeentes aangestel word wie oor die nodige oordeel beskik om ‘n goeie voorbeeld te stel, vals lering te identifiseer, en dit aan te spreek. In gemeentes waar daar nie ouderlinge is nie, is die gemeente eintlik in die hande van een indiwidu. Hierdie persoon word baie vinnig die enigste persoon wie besluite neem en hulle duld gewoonlik nie teëstand nie. Die uiteinde kan nooit positief wees nie.