Spring na inhoud

Selgroepe is die model hoe die Kerk behoort te funksioneer

Agtergrond

Selgroepe

Die doel van selgroepe is om die Kerk te wees soos wat dit in Handelinge 2:42 gevind word.

42En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede. – Handelinge 2:42

Vier aspekte word geïdentifiseer:

  • Lering (doktrine; in die leer van die apostels)
  • Gemeenskap (vriendskap en uitreiking na ons naaste)
  • Nagmaal (in die breking van die brood)
  • Gebed (in die gebede)

Dit is hoe die Kerk moet funksioneer.

Vir 35 jaar is ek betrokke by selgroepe (ons noem hulle ook klein groepe), hetsy die stigting van groepe, die lei van groepe, of die opleiding van selgroep leiers. My eerste selgroep was 1990 in Johannesburg se middestad gestig. Te midde van die omgewing was daar 'n groep gelowiges in die Ponte City gebou wie ywerig was om die Woord te hoor en te leer. Hierdie groep was deel van 'n klein gemeente in die suide van die stad waar die Woord effektief verkondig is en waar die leraar die nut van selgroepe verstaan het. Nadat ek in 1991 in die huwelik getree het, het ek Pretoria toe verhuis en 'n selgroep in La Montagne begin. Vier jaar later verhuis ons na Montanapark en begin met 'n selgroep in 1995. Die lewe gebeur, mense verhuis of kry 'n nuwe fokus en hierdie groep het aangehou todat die laaste lede in 2007 die land verlaat het. Hierna het ek vir 'n lang periode in die buiteland gewerk. Gedurende my verblyf in die Midde Ooste, was daar aktiewe selgroepe, en ek was 'n lid van een van daardie groepe.

Montanapark Selgroep

Na my terugkeer na Suid Afrika in 2022, het ek met weer 'n selgroep begin, en hierdie groep gaan van krag tot krag. Die lede is gemotiveerd, hulle verstaan die visie van selgroepe, en hulle werk daaraan om hul eie geestelike lewens te versterk.

Die selgroep in Montanapark is baie aktief. Die lede neem gemaklik deel en fokus op geestelike groei. Tans is daar 11 lede en die ouderdomsgroepe wissel van tieners tot ouer persone. Die groep kom op Donderdag aande byeen, en is ook by ander aktiwiteite betrokke. Die mans is deel van ‘n groep wat gereeld bymekaar kom op Saterdag oggende. Hierdie ouens is my ondersteuning. Die groep laat nie 'n geleentheid verbygaan om weg te breek nie.

Die doel van die selgroep is lering, vriendskap, gebed, en geestelike groei. Dit is in lyn met Handelinge 2:42. Elkeen neem deel en het 'n spesifieke taak. Sommige van hierdie aktiwiteite het spontaan ontstaan en in ander gevalle het die individue gekies op grond van hulle vermoëns of belangstellings, om verantwoordelikhede vir 'n taak te neem. In die periode wat die groep aan die gang is, het mense wie aanvanklik nie ‘n woord gesê het nie, na vore gekom as uitstekende sprekers wie nou self leiding neem. Enige van hulle kan die groep suksesvol hanteer. Die selgroep leier is soms bloot 'n fasiliteerder.

Daar is elke maand ‘n biduur wat saamval met Nagmaal. Drie lede is in 2024 in die teenwoordigheid van getuies gedoop. Ons fokus op Skrifgebonde lering. Die groep het alreeds intensief deur Daniël, Openbaring, Handelinge, Romeine, en die sendbriewe van Paulus gewerk. Elkeen kry ‘n geleentheid om ‘n aanbieding te doen. Ysbrekers begin elke week se verrigtinge en elkeen kry ‘n beurt.

Die groep vorder mooi, en in die proses word voornemende leiers geïdentifiseer en opgelei. Wat motiveer hulle? Die feit dat die lede vir mekaar omgee. Baie van die ouens ry direk van die werk af en trotseer Pretoria se verkeer net om nie 'n byeenkoms te mis nie. Ek waardeer dit opreg. Die onderlinge verhoudinge wat gekweek word is spesiaal.

Moot Selgroep

In die Moot area van Pretoria is 'n selgroep waarvan die lede almal pensioenarisse is. Hierdie ouens is egter spring lewendig en dit is 'n voorreg vir my om hulle te bedien. Hulle het gevra vir 'n studie van die boek Openbaring. Tydens die eerste byeenkoms het ek hulle egter vêr terug in die Woord geneem en terwyl Daniël die fokus is, sommer ook 'n draai in Esra, Nehemía, Jesaja, Jeremia, en Psalms gaan maak. Hierdie bronne word almal na verwys in Daniël.

Die groep het my voorheen al gevra dat hulle baie graag Openbaring in meer besonderhede wil bestudeer, en dit is waarmee ons tans besig is. Hierdie ouens weet waarheen hulle oppad is. Hulle berei voor, doen navorsing, en kom dan na die groep toe en gee terugvoer. Dít is hoe dit moet wees.

As jy wil volg wat ons alreeds bespreek het, kyk hier.

Die Langtermyn Doel

Dink net hoe mense se lewens sal verander as daar nog selgroepe in ons omgewing is wat dieselfde entoesiasme vir die Woord toon.

Jy as Selgroep Leier

Dalk het jy al gedink dat jy die potensiaal het om ‘n selgroep leier te wees. Kom ons kyk wat nodig is om ‘n effektiewe leier van ‘n groep gelowiges te wees.

  • Identifiseer ‘n paar belangstellendes: Miskien het ander alreeds met jou gesels oor die moontlikheid om ‘n groep te lei. As jy so vier tot ses persone geïdentifiseer het, reël dat julle iewers bymekaar kom, mekaar leer ken, en julle verwagtinge bespreek. Dit kan dalk ‘n tyd neem voordat die lede vir die eerste keer bymekaar kom as 'n volwaardige groep.
  • Kennis van die Woord: Jy is die groepleier en mense gaan van jou verwag om die Woord goed te ken. Hoe verbeter jy jou kennis van die Woord?

    • Lees die Woord! Dit is die effektiefste manier om die Bybel te leer ken.
    • Kies ‘n tema, byvoorbeeld wedergeboorte, en bestudeer voorbeelde in die Woord waar wedergeboorte ter sprake is. Die Woord is sy eie beste kommentator.
    • Doen navorsing. Daar is voldoende inligting aanlyn beskikbaar. Gebruik naslaan Bybels. Wees egter bedag op misleidende bronne.
    • Doen behoorlike voorbereiding vir jou aanbieding. Daarsonder kan jy verseker wees jou aanbieding of bespreking gaan misluk. Voorbereiding vind nie in die uur voordat die groep ontmoet, plaas nie.
  • ‘n Ontvanklike persoonlikheid: Jy gaan mense in jou huis ontvang. Jy moet hulle gemaklik laat voel. Jou persoonlikheid moet opregte belangstelling uitstraal. As jy nie werklik vir die geestelike groei van mense omgee nie, moet jy dit liewer nie aanpak nie. Indien jy ‘n getroude man is en ook die selgroep leier, gaan jou vrou moet regstaan vir koffie/tee/water. Hou dit in gedagte en doen jou deel met die opruimwerk wanneer die groep vertrek het. Sodoende deel julle as egpaar verantwoordelikhede.
  • Werkbare spasie: Waar jy mense ontvang moet almal gemaklik voel. Beplan hoeveel persone jy kan akkommodeer. Meeste sit- of woonkamers het spasie vir ses tot agt persone. Indien dar meer mense is, gaan hulle almal gemaklik kan sit? Dit is om hierdie rede dat meeste selgroepe 'n maksimum van agt na tien lede het, insluitend die selgroep leier.
  • Parkering: Jou erf moet voldoende spasie hê sodat alle voertuie veilig is. Kom ons aanvaar jy het ‘n groep van agt, wat jouself en jou eggenoot insluit. Indien die ander ses persone drie egpare is, moet jy drie voertuie in jou inrit kan parkeer.
  • Tydbestuur: Hierdie een is baie belangrik. Ons groep hou daarvan om na afloop van die Bybelstudie geleentheid, te kuier. Leer egter om die byeenkoms te beperk tot nie meer as twee ure "en 'n bietjie" nie. Ons groep begin om 18:30 en teen 21:00 is ons klaar.

Daar is baie ander aspekte wat genoem kan word, maar kom ons volstaan by hierdie. Indien jy belangstel om self ‘n groep te begin, kom gesels met ons dat ons ‘n pad saam kan stap. ‘n Effektiewe selgroep leier kan mense ‘n liefde vir die Woord gee wat hulle op die pad sit om werklik geestelik te groei.

Word 'n selgroep leier

Ons benodig selgroep leiers in die volgende areas:

  • Annlin
  • Doornpoort
  • Magalieskruin
  • Montana
  • Montanapark
  • Sinoville
  • Wonderboom
  • Enige ander areas, ongeag waar

As jy alreeds 'n ervare selgroep leier is, of as een opgelei wil word, kontak ons. Ons sal jou graag touwys wil maak, en deel laat word van 'n baie leersame en verrykende bediening waar die hooffokus net op die bediening van die Woord is.

Verdere inligting

[ Hoe verskil die kleingroep byeenkoms van 'n groot kerk se diens? ]