Spring na inhoud

Wie was die Woord?

Die Onmiskenbare Feite

Oop Bybel met die Woord van God

Johannes begin sy evangelie met die volgende woorde:

1In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2Hy was in die begin by God. 3Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. 4In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. 5En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. – Johannes 1:1-5

Die skrywer identifiseer die Woord as volg:

  • Hy was (alreeds) in die begin daar.
  • Hy was by God (die Vader).
  • Hy was God (deel van die Drie-Eenheid).
  • Hy was die Skepper van alle dinge (Johannes 1:10 en Kolossense 1:16).
  • Hy was die bron van lewe (Johannes 14:6).
  • Die lewe was die lig wat mense nodig gehad het (Johannes 3:19-21, Johannes 8:25, en 2 Timótheüs 1:10).
  • Die lig dui die weg aan waar daar duisternis is (Psalm 119:105).
  • Duisternis kan nie lig oorkom nie (1 Johannes 1:5).

Ons sien eers in vers 14 dat Johannes begin om die sluier te lig oor die identiteit van die Woord. Hy is nou vlees en ons kan Hom sien. In vers 17 noem hy sy naam – Jesus Christus, die sentrale Persoon en boodskap van die Bybel, en openbaar Hom sodoende aan ons.

Johannes herhaal hierdie stellings in sy eerste sendbrief (1 Johannes 1:1-5). Die derde keer dat Johannes die Woord beskryf is in Openbaring 19:13. Sy Naam is Die Woord van God. Dit is hierdie Woord wat ons aan jou verkondig.

Die Woord in die Ou Testament

Waarom is die Woord nodig? Omdat die Woord van God jou leiding in die lewe is:

105U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad. – Psalm 119:105

Waarom is "woord" nie hier met 'n hoofletter geskryf nie? Bloot omdat Semietiese tale (Aramees, Hebreeus, en Arabies) nie hoofletters het nie, en die Woord toe nog nie aan die Ou Testamentiese heiliges geopenbaar is soos baie jare later nie. Die "woord" (Wet en profete) wat Dawid gelees het, vind sy vervulling in die Woord van die Nuwe Testament met Jesus se koms na die aarde. God het inderdaad vlees geword en onder ons kom woon. Sien Johannes 1:14.

Die "Woord" is dus die wet en profete soos gevind in die Ou Testamentiese geskrifte, waar dit met 'n klein "w" geskryf. God en elke mens het 'n naam, wat met 'n hoofletter geskryf word in Westerse tale. Sy naam is "Die Woord".

Waarom moet jy dit weet?

Dit is hierdie Woord, Jesus Christus, wie ons aan jou verkondig. Net hierdie Woord, niks meer nie en niks minder nie.