Jy het jou gemeente verlaat. Wat nou?
Dalk is jou storie dieselfde as myne
Dit het met my ook gebeur
Ek het die punt bereik waar ek oortuig was dat die fokus van die "leiers" van die gemeente waar ek was, verkeerd was. Wat ek gesoek het, behoorlike lering en 'n fokus op God, het ek nie gekry nie. Toe ek daardie Sondagoggend vir die laaste keer daar uitstap, het ek geweet dat ek het my beste gegee het en my deel gedoen het in elke aktiwiteit waar ek betrokke was. Ek het stroom-op teen sekularisasie in die gemeente geswem, en het in die proses ‘n teiken geword. Ons was nog nooit gewaarborg dat die pad van 'n gelowige maklik sou wees nie. Ongelukkig begin die verrotting in die kerk, en ons moet besluit of ons hiermee akkord wil gaan, en of ons eerder van 'n situasie wat nie gaan verbeter nie, wegstap.
Vryspraak
Die belangrikste is eerstens om te vergewe en vry te spreek. Jy kan nie toelaat dat dit wat gebeur het, ‘n wrok in jou opbou nie. Spreek die leraar of diegene wie jy dink verkeerd opgetree het, vry. So lank as wat jy ‘n wrok koester, bind jy jouself aan daardie situasie, en dit is presies wat die duiwel wil hê moet gebeur. Dit maak nie saak of jy reg was nie. Later het iemand in die gemeente, wie geestelik naby aan my is, bevestig dat my optrede en evaluering van die situasie reg was. Ek het sy terugvoer baie waardeer. Of ek reg of verkeerd was is egter nie belangrik nie. Ek moes vryspreek. Vryspraak beteken egter nie die aanvaarding van dit wat verkeerd is nie.
Introspeksie
Wanneer jy jou gemeente verlaat is die gevaar dat jy in 'n gemaksone verval. Jy woon nie meer dienste by nie en dit lei tot onbetrokkenheid. Gun jouself die tyd en ruimte om wat gebeur het, te verwerk. Wees versigtig om jouself nie teenoor diegene wie agterbly, uit te spreek nie. Los die kritiek. Dit is jy wat aanbeweeg het, nie hulle nie. Besluit op ‘n periode wat jy jouself gee om introspeksie te doen. Daarna moet jy tot aksie oorgaan en weer iewers inskakel. Hierdie nuwe betrokkenheid is baie belangrik. Daar was 'n rede waarom jy die gemeente verlaat het. Jy moet nou 'n nuwe rigting inslaan. Doen dit in geloof en met gebed.
Die volgende stap
Indien jy op ons webwerf afgekom het, hetsy deur sosiale media, ‘n internet soektog, of deur iemand wie jou hiernatoe verwys het, kontak ons sodat ons kan gesels. My raad sou wees dat ons jou in ‘n kleingroep (selgroep) akkommodeer. Ons selgroepe stel nie belang in stories nie; ons stel in jou belang en wil sien dat jy die gesonde leer (2 Timótheüs 4:3) hoor in 'n omgewing waar die res van die groeplede dieselfde behoefte het.
Lees verder
Jy is nie die enigste een wat deur hierdie proses gegaan het nie. Waarom verlaat so baie mense die Kerk? [ Gelowiges verlaat die kerk wanneer laasgenoemde se fokus verkeerd is ]